Monday, 4 June 2018

Pampoen Sop (Butternut)

Wat is nou lekkerder as Sop op 'n koue winters dag, en daar is so 'n groot verskeidenheid van keuses, boontjiesop, groentesop, hoendersop, lensiesop, en en en... 'n mens kan basies met enige iets gou 'n sop aanmekaar slaan, dit is goedkoop, maklik, die hele familie gaan slaap met trommel dik magies en daar is nog vir môre of die vrieskaste vir ander dag. Vandag op die spyskaart, pampoensop, mmmmmmmm, of altans, butternut sop (dis wat in die rak is, my gunsteling, steek 'n paar gate in, druk hom in die mikrogolfoond op hoog vir 'n paar minute en ta-da, ontbyt vir 'n koningin ) maar pampoen is mos maar pampoen, ek weet nie almal voel so nie, die smaak en tekstuur verskil van mekaar, maar dit is die idee. So om te begin maak ek eers die pampoen se skil sag deur om hulle eers 'n rukkie heel in water te kook of om hulle vir 'n rukkie in die mikrogolf te sit, onthou net die gate in die pampoen anders ontplof dit in mikrogolf en dit is nie 'n mooi prentjie nie.

Basiese Resep

4 groterige butternuts  in blokke gesny
4 medium uie in blokke gesny
500 ml melk of room
Sout en peper na smaak
Aartappels optioneel

Kook die pampoen, uie, aartappels sout en peper in water tot sag, druk alles fyn, voeg nog water by as jy dink dis nodig laat prut tot dit glad is. Op die stadium kan jy die room of melk ook in gooi as jy so voel (sommige mense is allergies of is nie lief vir melk produkte nie, so jy kan dit heeltemal uitlos ook as jy wil). En dit is basies dit. Jy prut hom tot hy vir jou reg lyk en proe.
Vir so 'n tikkie extra lekker, rasper die skil van 'n  lemoen by (raad van 'n vriendin) het dit nog nie probeer nie, maar gaan dit definitief probeer volgende keer.

Thursday, 24 May 2018

Kerrie kool aan die broei vir die winter

Wat is nou lekkerder as ma se "home mades". Daar is niks in die wêreld wat ma en ouma se bottels kan wen nie. Klein tyd herinneringe, en natuurlik toe jy nou op jou eie bly, stapel slaaie as jou vriende kom braai. Ek het altyd seker gemaak ek het 'n paar van my ma se bottels in die kar na die naweek by ma en pa op die plaas.
Nou is ek self ma en dra ek ons tradisie voort, my gesin is absoluut mal oor die inlê goedjies, so dat dit nie kans het om oud te word in die kas nie. :-)

Vandag kook ons bietjie kerrie kool,  njammies! 

Die eerste sarsie is in...  kerrie kool... Ek het net bruin asyn in die kas gehad, daarom die donker kleur. Maar jy ken mos nou al vrou in die kombuis, as ek hom nou wil maak, wil ek hom nou maak. Daar is nie van wag tot ons by die winkels kan uitkom nie, en buitendien teen daardie tyd is die lus weg en die kool af, Hahaha.

Basiese resep

+/- 2kg op gekerfde / gesnyde kool (hoe ook al jy daarvan hou)
+/- 3 uie ook opgemerk soos jy daarvan hou

Kook tot half gaar, gooi water af, gooi weer omtrent 750ml water en so 15 ml sout by, kook dan tot gaar (weereens hier verskil smaak, ek hou van my kosse krakerig ander mense verkies weer puree, lol)
Voeg dan by omtrent 3 k suiker, 3 k asyn en 20 ml kerriepoeier en 5 ml borrie, kook dan vir omtrent nog so 5 minute
Dan meng so 25 tot 30 ml meziena met bietjie water, gooi dit by die kool.
Kook tot dikkerig, kyk dat hy nie aanbrand nie en as hy reg lyk, bottel warm.

Ek skat alles so met die oog saam, so die resep hierbo is net 'n basiese riglyn, pas hom maar aan soos hy jou pas.

Geniet

XxxX